"Amnestie en die WVK" statement by Deputy-President Roelf Meyer (27 October 1998)

Na aanleiding van die artikel deur Jacko Maree, en opvolg kommentaar in die Burger, val dit vreemd op dat hy as NP LP sy eie party se derms oor die amnestie aangeleentheid so uitryg. Ek stem nie met al sy stellings saam nie, maar vind dit tog onverklaarbaar dat hy, as NP LP, wat mede verantwoordlikheid moet dra, die skuld oor die verloop van die gebeure op die NP fokus.

Die hele verloop van die onderhandelingsproses en die uitkoms moet vandag beoordeel word teen die alternatiewe wat toe bestaan het. Twee sodanige alternatiewe was 'n beleg van Suid Afrika deur die Internasionale gemeenskap wat defnitief moontlik was in die lig van die totale weersin in apartheid. In die laat tagtiger jare het dit 'n hoogtepunt bereik wat selfs daartoe gelei het dat vriende van die destydse Suid Afrikaanse regering, soos Margaret Thatcher, druk uitgeoefen het op Suid Afrika om onmiddelik te likwideer. Die tweede alternatief was 'n bloedige binnelandse konflik wat ons almal in die loopgrawe sou dwing en wat baie erger as NamibiŽ en Zimbabwe of enige ander konflik sou wees.

Ons het Suid Afrika 'n wrede bevrydingsoorlog gespaar deur, op 'n vreedsame wyse, 'n onderhandelde ooreenkoms te bereik. Ek is dankbaar dat ek deel kon wees van die proses om vir ons land so 'n uitkoms te verseker. Die feit dat Suid Afrika vandag swoeg onder ondemokratiese praktyke wat deur die ANC regering toegepas word, is nie die resultaat van die onderhandelings of die nuwe grondwet nie, maar van die feit dat ons nog nie ons politieke samestelling verander het nie. Eers wanneer ons swart en wit werklik in een politieke huishouding saambind sal ons die nodige demokratiese balans bereik. Dit is juis hierdie oefening waarmee die UDM besig is. Ander partye onder wit leiding soos die Nasionale Party en die Demokratiese Party sal nie dit kan regkry nie.

Die feite oor die amnestie ondehandelinge is baie eenvoudig. Kobie Coetsee het die hele aangeleentheid soos 'n ervare kaartspeler teen sy bors gespeel - van begin tot einde - en hy is hierin deur FW de Klerk beskerm. Nie ek of enige ander onderhandelaar is in die periode vanaf 1990 tot laat in 1993 toegelaat om met die saak te handel nie. Selfs gedurende die onderhandelings oor die Notule van Verstandhouding in 1992 is die saak van vrywaring deur Kobie Coetsee hanteer en nie deur myself soos Jacko Maree probeer uitmaak nie. Ek moet ook daarop wys dat dit deurgaans die praktyk was gedurende die onderhandelings dat ander kabinetsministers verantwoordlikheid geneem het vir hul eie lynfunksies. Die verskil tussen die lynfunksies en amnestie is dat die meeste van hulle dit openlik en in oorleg met hul kollegas gedoen het. Om die rede kan ek met absolute oortuiging verklaar dat alles wat ek onderhandel het, die mede verantwoordelikheid dra van FW de Klerk en die volle kabinet van destyds, waarvan Andrť Fourie, Sheila Camerer en Danie Schutte vandag senior posisies in die Nasionale Party beklee. Nie 'n enkele besluit wat ek met Cyril Ramaphosa, die ANC of enige ander party onderhandel het, het ek op my eie gedoen nie. Daarom moet die totale kabinet en die NP koukus van destyds verantwoordlikheid neem vir die resultaat. Ek het weekliks volledig geraporteer aan die NP koukus van destyds, waarvan Jacko Maree en Marthinus van Schalkwyk en almal lede was. Niks wat ek gedoen het is in die geheim, agter geslote deure of in private ooreenkomste gedoen nie.

Oor amnestie het ek en ander, soos Hernus Kriel, dikwels in 1992 en 1993 in die kabinet en ander onderhandelings beplanningsessies gevra dat die saak tot 'n punt gebring moet word. Daar was nie vordering oor die saak in samehang met ander onderhandelingsvraagstukke nie. Einde ten laaste is ek, nadat die onderhandelings oor die grondwet afgehandel was, gevra om die saak te beredder. Dit was egter op 'n onmoontlike tydstip, maar het uitgeloop op die naskrif in die oorgangsgrondwet, die inhoud waarvan weereens deur die volle kanbinet van destyds goedgekeur is. Die ooreenkoms is op 5 Desember 1993 beklink.

Die vraag wat egter onbeantwoord bly is wat van die veiligheidsmagte van destyds en ons verantwoordlikheid teenoor hulle. In my eie voorlegging aan die WVK op 15 Oktober 1997 het ek die standpunt ingeneem dat die gebeure rondom die destydse konflik in volle konteks gesien moet word. Dit beteken dat almal aan albei kante van die konflik verantwoordelik was vir die skep van 'n gees van vyandigheid waarin buitengewone optredes en selfs skendings van menseregte voorgekom het. Almal van ons het daarom in 'n mindere of meerdere mate verantwoordelikheid gehad. Diegene wat in die regering, parlement of in partystrukture aan weerskante van die konflik gedien het.

By terugskoue het ek gesÍ was my eie grootste skuld dat ek nie betyds meer bevraagtekend was gedurende daardie tyd nie. Ek het verder in my voorlegging aan die hand gedoen hoe menseregteskendings beoordeel behoort te word. (Basies in 3 kategorieŽ van beoordeling: optredes wat onder opdrag plaasgevind het, die wat gewaand in opdrag was en derdens optredes wat buite konteks plaasgevind het).

Ek dink dus dit was verkeerd dat PW Botha nie na die WVK gegaan het om verantwoordlikheid te neem vir optredes deur die veiligheidsmagte in sy tydperk nie, maar dit oorgelaat het aan individuele lede van die veiligheidsmagte om vir hulself in te staan. Ek dink verder dat die NP, as organisasie, medeverantwoordelikheid moet aanvaar en kan hy nie in sy huidige gedaante op enige geloofwaardige wyse hom probeer distansieer van die regering van die verlede se aksies en dade nie. Daar is dus net een logiese gevolgtrekking - vir die NP het die pad tot 'n einde gekom.

Back to 1998 Archive